Saturday, October 27, 2012

Skatkis

#1
Ek ruik jou nog tussen die lakens
En as ek dagdroom wandel deur die huis

Jy sal nooit my sintuie verlaat nie

Hulle skilder haastige middernagtelike beelde
van jou hande

Om vir ewig in die hangkas van my gedagtes
te vertoef


#2
Selfs in jou afwesigheid
verwek
die gedagte van jou
vingerafdrukke
pienk bloeisels
langs
my
nek
af


#3
My hart na-aap 'n lepel
om jou lyf te omvou

om 'n lighter te wees
vir die lont wat binne jou le

en die ewigheid op 'n moerbyblaar
in te dwarrel

na waar ons saam
'n wasbeeld
van die lewe se gipsmodel sal word


#4
Die reuk van jou hare
hang op die rugkant van my hand
dit tower 'n beeld op rondom my
van omhelsings en smiles met toe oe

Soms leef ek vir dae
in hierdie sprokiesplek
want hier is lank lank gelede
gister


#5
'n Glasplaat staar terug

Eenoog ewigheid dryf in 'n lui solo
dans in S'e en O's

Spreek sonder woorde van 'n verlore iets
wat pyn in die gehoor se hart

Draai maar nou 'n blinde oog
die wereld het getransponeer
Maar nounou tussen straatligte
vang hy jou in 'n poel swart lig

Dorings rank tusen my en jou
En ek gooi hulle nat
In my gieter rol trane
wat soos kwik nooit verdwamp nie


#6
Ek sou vrede vind in net jou nabyheid
sou jou hand teen my wang skuur-suis-gly
Bly!

Sal ek wag...

Wonder watter kant toe jou pad wandel
Watter rigting jou oe gerig is
En of ek ooit jou sonsondergang pienker kleur
met onbewustelike verfkwaste van verlepte woorde

As ek maar nie so koud voel van die vrees nie...

Sou ek jou kon vang vinkie teen die blou?
Goue duiwelslag wat my in kettings toevou
Styf vasgevang my sagte vinkie sonder swaard of sleutel
(treur jy oor my hart?)

My hart is steeds vasgetower in die takkiesvryheid
in die tuin
in die strale
die betowering

En ek is hier
koud van vrees
sonder 'n hart om my warm te hou
want my hart behoort aan jou


#7
die bloedsoen
van 'n universele middernag
'n donker rooi wat gly in 'n langsteel kou
ek wil die middernag vashou

die maan en sterre vasdruk
en voel
hoe sy fluisterbries arms
om my middel vou

en dans met hom
my geheime vampier uur
tot hy sku
in die dagbreek in ontsnap

ek onthou
hoe hy sy vet druppels reen
teen my lippe gedruk het
en hoe sy koue soen my mond brand

No comments:

Post a Comment