Saturday, October 27, 2012

Genesis

ek het ontwaak en jy het ontsnap

op die sagte aggressie
ontblotend
en
verwelkend

en 'n lig steek op
in die donker
spelonke
van my hart

dis 'n verstoting
omhelsing
hoop op 'n landmyn
obsessie met die knal van die geweer

wat weergalm
en sag op my lippe land
en ek lig myself op uit my warm bed van ou naalde
wat al rowe geword het

en stap die suurreen in

jy is my bitter heuning
en soet gal
my ligtoring
en tranedal

my koue rivier
in vee vallei
saamgesnoer
en geskei

blomme van steen verstrengel
alleen
huil en lag
en word 'n kersvlam teen die pers middernag

Voetspore in Dorre Brons

Die spel is in rooigrond begrawe

Die horison se traanreen hang
soos ys watervalle

die blomme is wit korrels
en die karoo sit tussen my kiestande vas

'n windpomp kreun alleen
In die droe grashalms se handpalms

Hooglied

Ek wil 'n perske-pienk rokkie aantrek
wat 'n sagte kussing vir jou oe kan wees
ek wil jou toevou in watte
wat spierwit is

jy maak jou gesig toe

sagte dwelm duime oor jou voorkop vee
stroop oor die kurwe van jou mond drup
jou in 'n semi slaap weg wieg
waar swaartekrag nie 'n swart gaap kan gee
en jou wegsteel nie

Jou nek in my handpalm kelk

My hart het 'n mond
en die murmer jou naam
Antwoord my

Ek roep na jou deur 'n polystyrene koppie
Ek wil die growwe vesel uit die dag pluk
en naak daarmee deur die woud hardloop
Ek wil jou voete langs my hoor klap

Dit oorweldig my
Stoot op soos springmielies
in die flieks se panblikke
Kriewel krippel kielie kind

Jys my kersboom
My foelie-versiering
'n Blink pakkie
wat 'n vreemdeling op my stoep gelaat het

Skatkis

#1
Ek ruik jou nog tussen die lakens
En as ek dagdroom wandel deur die huis

Jy sal nooit my sintuie verlaat nie

Hulle skilder haastige middernagtelike beelde
van jou hande

Om vir ewig in die hangkas van my gedagtes
te vertoef


#2
Selfs in jou afwesigheid
verwek
die gedagte van jou
vingerafdrukke
pienk bloeisels
langs
my
nek
af


#3
My hart na-aap 'n lepel
om jou lyf te omvou

om 'n lighter te wees
vir die lont wat binne jou le

en die ewigheid op 'n moerbyblaar
in te dwarrel

na waar ons saam
'n wasbeeld
van die lewe se gipsmodel sal word


#4
Die reuk van jou hare
hang op die rugkant van my hand
dit tower 'n beeld op rondom my
van omhelsings en smiles met toe oe

Soms leef ek vir dae
in hierdie sprokiesplek
want hier is lank lank gelede
gister


#5
'n Glasplaat staar terug

Eenoog ewigheid dryf in 'n lui solo
dans in S'e en O's

Spreek sonder woorde van 'n verlore iets
wat pyn in die gehoor se hart

Draai maar nou 'n blinde oog
die wereld het getransponeer
Maar nounou tussen straatligte
vang hy jou in 'n poel swart lig

Dorings rank tusen my en jou
En ek gooi hulle nat
In my gieter rol trane
wat soos kwik nooit verdwamp nie


#6
Ek sou vrede vind in net jou nabyheid
sou jou hand teen my wang skuur-suis-gly
Bly!

Sal ek wag...

Wonder watter kant toe jou pad wandel
Watter rigting jou oe gerig is
En of ek ooit jou sonsondergang pienker kleur
met onbewustelike verfkwaste van verlepte woorde

As ek maar nie so koud voel van die vrees nie...

Sou ek jou kon vang vinkie teen die blou?
Goue duiwelslag wat my in kettings toevou
Styf vasgevang my sagte vinkie sonder swaard of sleutel
(treur jy oor my hart?)

My hart is steeds vasgetower in die takkiesvryheid
in die tuin
in die strale
die betowering

En ek is hier
koud van vrees
sonder 'n hart om my warm te hou
want my hart behoort aan jou


#7
die bloedsoen
van 'n universele middernag
'n donker rooi wat gly in 'n langsteel kou
ek wil die middernag vashou

die maan en sterre vasdruk
en voel
hoe sy fluisterbries arms
om my middel vou

en dans met hom
my geheime vampier uur
tot hy sku
in die dagbreek in ontsnap

ek onthou
hoe hy sy vet druppels reen
teen my lippe gedruk het
en hoe sy koue soen my mond brand

Winter Weemoed

Dis soos Die Stilte...

die skeefstaan straal
die sonkring
wat van hul blinkhaar skoonheid
af vryspring

tot in oe
waar dit soos dou
lui vloei
deur grys bruin en blou

en gretig soos die koper halms
oor die vlaktes strek
en 'n vreemde soet
weemoed in my wek

en in 'n oogwink
soos ons vingers vleg
soos wind deur blare
is dit weg

Kooltjie in die Donker

'n kooltjie in die donker
daar in die hande van my hart
waar swaargelaaide aande
deur jou gesig vervat

my 'n hoop gee vir nou
'n vuurtjie vir later
'n kloutjie gevou
om 'n borrel soet water

sou salwe en smere
jou sere versadig
jou koue verbrokkel
tussen nag en dag?

vergewe my stilte
vergewe, verlate
vergewe my vrae
in my soeke na later

Herinnering

As die lemoensap
Blare van die
Clivias bloos en
Daar in die tuin
Elke dag wals in die
Flou bries van awendskemer
Gaan
Haal ek
Immers my
Jammerte by my ouma se liefkooshuis
Kan 'n dans deur
Laventel blare dan
More se hartseer
Nietig maak?
Of kan die
Papier stemme van God Save the
Queen, wat op bergkoppe
Rebelleer teen die stilte van
Sondag slaap
Taai is my hart van wee
Ure se gewandel deur die warboel van
Verleentheid
Wakend is ek teen die
X-straal oe. Dit sien die
Ywer in my hande, onder die witwarm son van
Zimbabwe

Inspirasie teen die Dak

Geitjie daar teen my plafon
Jy sien mos nooit die horison
Jy sien ook nooit die son se rooi
As hy daar teen die berg opklim

En sal jy ooit 'n traan kon stort
Oor wat jy mis en wat dit word
Want hoe kan jy met koue bloed
Die son met geen blydskap ontmoet?

So daar hang hy met bloue oog en goue kroon
Om jou met hitte te beloon
En tog staar jy so stip, so stip
Na waar die horison wegglip

Baba

ons weet babatjies is harde werk
tog hou ons hulle styf onder die vlerk
immers honger nimmer droog
altyd 'n traantjie in die oog

'n SKROU!

verwoed in die nag opvlieg
klein pienkboud Hitler in 'n wieg
In die grysblou ogies g'n genade te sien
as ons hul middernagtelik hand en voet bedien

en tog haal hul soetjies asem
pragstuk sagte baba wasem
en sug asof met geen moed gepluk
as ma hul teen haar lyf vasdruk

so al maak hulle ons kapoet
hul bly steeds lief klein babagoed

Elim

Kleure tol bond met 'n knars van kryt en hout

Dis hier waar die lewe
herfsdrome
vir
pienk bloeisels
verwissel

en teen die blad van skemer
'n kanniedood kers doodblaas

Mense met krakieshande
gevou in gebed
sing lof aan die Here
en vergifnis is 'n asemteug nader

Borrels water babbel gesellig ten gronde
waar dit weer terugkeer na die aarde se sagte bors
en met dun vingers
die groenspaan bereik

Diertjies word ontdek
deur die lokval van oranje vuiste
met skyfiesvingers
in die boom van kennis

ryk mans se ego's verkrenk
le stil
en ontbloot
geskenk

Ons lees name van kinders wat soos ons
hulself aan ontsnap verstaar het
vrede vir hulle wat nooit die verfkwas
van 'n nuwe dag herwin het nie

Herfs van die Huwelik

Die spook sang van 'n serfyn dryf sag oor die droe vingers van die veld...

Hier treur die Wind oor haar maat die Reen wat sy gesig wegdraai en vergeet van hul samesyn...

En dan skielik in woede ontplof!

Die diere skuil onder klipdakke om Meraai en haar Man se ontstuiming te ontwyk maar hy slaan met 'n donderende vuis teen die sagte wang van Moeder Aarde en die bos ryk uit na die hemel met oranje hande wat vou in 'n kraakgebed...

Sy toorn bulder deur die wolke en rol oor die vlaktes!

En Meraai ween en kla en kners op haar boombas tande!

Tot haar asem opraak en sy uiteindelik stil gaan le in 'n diep kuil naby die rivier.

Haar eggenoot voel leeg sonder haar en die storm bedaar...
Reen knuip sy lippe toe en vlug, wanneer om terug te keer?
Nie eers hy weet nie.

Die kleintjies kriewel en kruip uit hul huisies en staar na die groot blink sterre wat hang soos trane in die aandlug.

En erens begin 'n Serfyntjie se sagte elegie weer

Die stilte tussen storms...

.